Vat hande en wees helde in gemeenskappe

Samuel Twala en Petrus van Eeden, stigterslede van Water Heroes

Water Heroes is gebore uit nood toe die inwoners, wat deur hul munisipaliteit in die steek gelaat is, dringend 'n reddingsboei nodig gehad het. Wit en swart het verenig om uitkoms te bied en só helde in hul gemeenskappe geword. Samuel Twala en Petrus van Eeden vertel meer.

Dié inisiatief steur hom nie aan politiek nie en stel nie daarin belang om munt uit hul werk te slaan nie. Hul uitsluitlike doel is om die dienste te lewer, want dit word nie deur die wanfunksionele Maluti-a-Phofung-munisipaliteit gedoen nie. Dié korrupsievoos munisipaliteit het die inwoners van Harrismith en sy buurdorpe Kestell en Phuthaditjhaba in die steek gelaat. Gemeenskappe word deur talle probleme geteister, veral die verlammende waterkrisis. Inwoners sit dikwels dae aaneen sonder 'n druppel lopende water.

"Ons soek dienste, nie politiek nie. Julle kan die politiekery vir daarbo hou, maar gee vir ons net dienslewering. Hieronder, op voetsoolvlak, is dienste al wat ons soek," het Samuel Twala, gemeenskapsleier en stigterslid van Water Heroes, in 2020 op die aktualiteitsprogram Prontuit gesê.

Water Heroes se ontstaan was 'n onwaarskynlike een.

Ná 40 dae sonder water in Harrismith het die besproeiingsboer Petrus van Eeden gaan ondersoek instel. By die filtrasie-aanleg het hy en Samuel Twala mekaar teëgekom en sommer daar en dan besluit om self in te gryp. Só is Water Heroes gebore wat ten doel het om dienste te lewer aan meer as 'n miljoen mense wie se smeekbede aan Maluti-a-Phofung op dowe ore val. Dit sluit in die herstel van watertoevoer, asook vullisverwydering en herstel van slaggate. Maar om dit te doen, moes swart en wit gemeenskapleiers hande vat.

Hulle het lekkende pype en verroeste pompe herstel deur tradisionele kanale te omseil. Nie net is 'n gevoel van selfbeskikking aangewakker nie, maar hulle het bewys dat oënskynlike onoorkombare struikelblokke deur gesamentlike optrede aangepak kan word.

Water Heroes het verlede jaar nege maande lank toegesien dat Harrismith water het, probleme met elektristiteit opgelos is en vullis verwyder is. Maar toe kom die munisipaliteit se nuwe administrateur, Blake Lefatola, en verbied hulle om voorts aan munisipale eiendom te werk. Hulle is selfs met tronkstraf gedreig. Nou moet hulle maar stilweg met herstelwerk voortgaan.

"Ons wil net help, maar die munisipaliteit wil baklei," sê Petrus.

Hy benadruk hoe belangrik dit is om in jou gemeenskap betrokke te wees en te help soek na oplossings, al is jy 'n boer en nie een van die dorp se inwoners nie.

"Ons is almal saam in hierdie land. Ons moet saamstaan en saamwerk."

Hy meen ons moet saam toesien dat almal, inwoners van dorpe en townships inkluis, kop bo water hou.

Lesse te leer uit die wit boere en swart gemeenskapsleiers wat onder die vaandel van die Water Heroes-inisiatief saamwerk om noodsaaklike dienste te lewer, sluit in:

Praat deur jou dade

Water Heroes se uitgangspunt is dat waterinfrastruktuur nie aan die munisipaliteit behoort nie, maar sy inwoners. Hulle glo nie protesoptogte los probleme op nie.

Pleks daarvan om slegs op die regering te steun, neem gemeenskapslede self die leisels, want as jy iets reggemaak wil hê, gaan jy dit maar self moet doen. 

Water Heroes maak gebruik van die tegniese vaardighede onder gemeenskapslede en ontvang boumateriaal van plaaslike ondernemings. Dit is hoe hulle ontwikkelingsiniasiatiewe, wat onder meer afvalverwydering, die skoonmaak van stortingsterreine, herstel van kragtoever en voorsiening van skoon water insluit, van stapel kan stuur.

Eenheid bo verdeeldheid

Water Heroes is 'n kragtige simbool van versoening. Dit onderskryf die belangrikheid daarvan om te bou aan vertroue, verskille opsy te skuif en samewerking te bevorder.

Deur saam aan 'n gemeenskaplike doel te werk, word hindernisse vir eenheidvorming uit die weg geruim en 'n grondslag vir toekomstige vennootskappe geskep.

Kontak
E-poa: info@waterheroes.org.za