Bring mediese sorg van gehalte na die platteland
Henry Coetzee, Prieska- mediese sentrum
Dit was 'n ernstige motorfietsongeluk in 2018 wat besproeiingsboer Henry Coetzee oortuig het van die noodsaaklikheid van mediese infrastruktuur. "Was dit nie vir 'n afgetrede dokter, my seun en sy vrou, wat 'n verpleegsuster is, nie, sou die pasiënt nie oorleef het nie. Ondanks die private mediese praktyk en 'n staatshospitaal op die dorp is, is daar nie genoeg kundiges en toerusting om mense in lewensgevaarlike situasies te behandel en te stabiliseer nie.
Die Prieska- mediese sentrum, ’n skuldvrye private kliniek het al 'n hele paar lewens gered sedert dit oopgemaak het.
Die Prieska- mediese sentrum, ’n skuldvrye private kliniek het al 'n hele paar lewens gered sedert dit oopgemaak het.
Henry Coetzee het medeboere en ander gemeenskapslede genader en twee jaar later staan die Prieska- mediese sentrum, ’n skuldvrye private kliniek, trots in Prieska. Die praktyk word bedryf deur 'n talentvolle jong dokter, dr. Steffan Gideon Raubenheimer. Sedert die kliniek oopgemaak het, is 'n hele paar lewens al gered. Steffan onthou een aand toe 'n egpaar daar aangekom het met ’n kleuter wat 'n lugweginfeksie gehad het.
"Die kind was blou in die gesig, want die asmapompies het nie gehelp nie. Ek het die kind met adrenalien en kortisoon ingespuit en die nebuliseerder gebruik, maar dit het nie gehelp nie. Die tyd was teen ons," het hy aan Charne Kemp vertel.
"Ek het die lugambulans gebel en verduidelik waar Prieska is. Terselfdertyd het iemand na die hoërskool se rugbyveld gejaag om die koördinate te kry sodat die helikopter daar kon land om die kleuter van hier na Kimberley te vervoer. Ons kon die jong pasiënt stabiliseer voordat die kind na 'n waakeenheid in Kimberley geneem en daar behandel is.
Die Prieska- private kliniek bied die volgende lesse vir gemeenskappe wat iets soortgelyks wil begin:
Die praktyk word bedryf deur 'n talentvolle jong dokter, dr. Steffan Gideon Raubenheimer.
Die praktyk word bedryf deur 'n talentvolle jong dokter, dr. Steffan Gideon Raubenheimer.
Ligging
Dit is een van die belangrikste faktore wat heel eerste oorweeg moet word. Dit moet binne jou gemeenskap se bedieningsarea wees, sentraal, sigbaar en maklik bereikbaar, sou 'n mediese noodgeval gebeur. Prieska-kliniek behandel 'n groot verskeidenheid pasiënte, insluitend dié wat nie lede van 'n siekefonds is nie. Ons is reg langs 'n apteek geleë, wat dit ook gerieflik maak vir mense om hul voorskrifte te vul.
Binne ons gebou is daar ook spreekkamers vir 'n arbeidsterapeut en optometris beskikbaar. Om soveel dienste as moontlik naby aan mekaar, of binne dieselfde gebou, te bied, is baie belangrik in landelike gebiede – mense wil nie 80 km ry om die dokter te sien en weer die volgende dag 'n lang tog aanpak om 'n optometris te besoek nie. Dis ook makliker vir die dokter om pasiënte byvoorbeeld na spesialiste op die perseel te verwys en makliker om met mekaar te konsulteer oor die regte behandelingsprotokol.
Beplan die vloei van die praktyk
Met 'n noodgeval meld die pasiënt aan by die ontvangs, en word daarna na die verpleegsters se kamers verwys en daarna na die dokter se spreekkamer. Hier is ook 'n elektrokardiogram- (EKG) kamer waar die noodgevalle behandel word. Dit is weer verbind met nog 'n ongevalle-area en teater wat trauma-gevalle behandel. Die klein teater is verbind met 'n hospitaalsaal, wat 'n badkamer met toiletgeriewe en 'n stort het. Dié gedeelte vloei na die kliniek se praktyk, waar die dokter se konsultasiekamers is. Die vloei van ons praktyk verseker dat daar nie opeenhopings of vertragings is nie. Dit gee die praktyk 'n gevoel van orde en rustigheid.
Die besproeiingsboer Henry Coetzee, een van die mense agter die Prieska- mediese sentrum.
Die besproeiingsboer Henry Coetzee, een van die mense agter die Prieska- mediese sentrum.
Siekefondse
Siekefondse is nie onmiddellik bereid om kontrakte met nuwe praktyke te sluit nie. Daar word verwag dat die praktyk eers 'n pasiëntgeskiedenis opbou met genoeg pasiënte. Dan eers oorweeg hulle of dit die moeite werd is om 'n kontrak met die praktyk te sluit. Dit is 'n struikelblok vir 'n kliniek en sy pasiënte, wat reeds duur betaal vir siekefondse, en nie nog geld aan dokteronkoste wil bestee nie. Die rompslomp met siekefondse maak dit moeilik vir nuwe praktyke op die platteland om 'n voet in die deur te kry, asook kontantvloei, wat broodnodig is in die begindae van die praktyk.
Siekefondse het ’n verantwoordelikheid om na private plattelandse dienste en praktyke uit te reik, met hulle in gesprek tree en te ondersteun. Só kan broodnodige mediese dienste van gehalte aan plattelandse gemeenskappe gelewer word.
Toerusting
Op 'n plattelandse dorpie dra 'n dokter se praktyk twee hoede: dié van algemene praktisyn, maar ook van traumadokter wat noodgevalle moet behandel. Daar is dikwels nie geriewe soos ongevalle of hoësorgeenhede beskikbaar nie. Die kliniek het 'n lys opgestel van noodsaaklike toerusting en wat verpligtend is, ingevolge die Gesondheidsberoepswet van Suid-Afrika. Omdat begrotings knap is, moes die kliniek fyn beplan watter toerusting onontbeerlik is, en watter “nice to haves” is.
Kontak
Tel: 081 464 4633
E-pos: info@prieskamed.co.za
Bestuurder – Anne-Rita van Heerden
Tel: 072 023 0774
E-pos: manager@prieskamed.co.za