Hluhluwe-boere: Saam is ons sterker
PJ Hassard, 'n KwaZulu-Natalse wild-en-veeboer en Kwanalu-president
Toe vernietigende onrus KwaZulu-Natal in 2021 verlam het, was Hluhluwe een van die min landelike dorpe wat ongeskonde uit die stryd getree het. Die rede? Gesonde verhoudings tussen kommersiële boere en tradisionele leiers.
PJ Hassard, 'n wild-en-veeboer van Hluhluwe in KwaZulu-Natal en Kwanalu-president.
PJ Hassard, 'n wild-en-veeboer van Hluhluwe in KwaZulu-Natal en Kwanalu-president.
PJ Hassard het tydens die onluste 'n oproep ontvang van 'n plaaslike stamhoof, wat hom ingelig dat plunderaars al hoe nader beweeg en gevra: "Hoe kan ons help?" PJ, 'n vierdegenerasieboer, boer saam met sy pa, Peter, voormalige president van die KwaZulu-Natalse Rugby-unie, met wild en beeste buite Hluhluwe.
Hy skryf sy sukses as boer en gerespekteerde gemeenskapsleier toe aan sy optimistiese lewensuitkyk. "Ek omring myself met mense wat vernuwend dink en altyd die beste uitkoms vir 'n saak sien. Wanneer jy iets benader, moet jy jouself afvra, wat sal ek baat as die projek 'n sukses is; nie wat kan ek verloor as dit misluk nie," vertel die boer wat in 2013 by die dood omgedraai het ná ’n vermoedelike sluipmoordaanval van 'n renosterhoringsindikaat. Vyf gewapende mans hom buite sy plaashek ingewag en hom geskiet, maar ten spyte hiervan het PJ hom steeds verbind om verhoudings tussen die boere en die gemeenskap te verbeter en bly hy standvastig met sy optimistiese lewensuitkyk.
Plunderaars in die KwaZulu-Natalse dorpie Eshowe. Danksy goeie gemeenskapsverenigings is Hluhluwe grootliks van die 2021-onluste se verwoesting gespaar.
Plunderaars in die KwaZulu-Natalse dorpie Eshowe. Danksy goeie gemeenskapsverenigings is Hluhluwe grootliks van die 2021-onluste se verwoesting gespaar.
"Raak betrokke by jou gemeenskap en plaaslike boereverenigings en wees altyd reg om te help," is sy raad vir 'n suksesvolle landbougemeenskap. PJ glo die hulp wat Hluhluwe se boere tydens die harde covid-19-inperkings aan hul bure verleen het, 'n groot rol in hul gesindheid tydens die Julie 2021-onluste gespeel het.
"Almal het saamgestaan om ons dorp beskerm – of dit hulle nou ’n spazawinkeleienaar of supermarkbestuurder was, die gemeenskap het hul deel gedoen en saam met die polisie en ander instellings gewerk om plunderaars af te weer."
PJ bied die volgende raad vir goeie gemeenskapsbande, wat tot goeie gemeenskapsveiligheid lei:
Bou 'n inligtingsnetwerk
Vestig inligtingsnetwerke binne die gemeenskap – dit is jou oë en ore op die grond. Die meeste mense sal die regte ding doen, maar gebare soos droogtehulp en die herstel van gebreekte infrastruktuur, bevorder ook lojaliteit. In die droogtetyd het Hluhluwe se kommersiële boere byvoorbeeld gehelp om damme in die area te herstel en kommunale boere bygestaan om hul vee te voer.
Rome is nie in 'n dag gebou nie
Dié vee-en-wildboer en sy medeboere bou al meer as 'n dekade lank bande met plaaslike gemeenskappe en hul leiers. Die Hluhluwe-boerevereniging het sowat tien jaar gelede, by monde van vyf boere wat in die omgewing grootgeword het en almal Zoeloe magtig is, uitgereik na indoenas en die inkosi van die omgewing. Uit die gesprekke het kwartaallikse vergaderings 'n instelling geword. Verhoudings en vertroue kos tyd om te vestig, maar dit is noodsaaklik vir veiligheid in landelike gebiede. Daar is 'n rede waarom Caesar en Napoleon "divide and conquer" as hul motto aangeneem het. Verdeelde gemeenskappe is kwesbare gemeenskappe. Reik eerste uit en begin geleidelik bystand bied waar jy die behoeftes raaksien. Ondersteuning, hetsy geldelik, in die vorm van infrastruktuur, of selfs net om morele ondersteuning te bied en na iemand se griewe te luister, help om eenheid en gedeelde verantwoordelikheid te bevorder.
'n Lugfoto van die pad wat na die dorp Hluhluwe loop. Gemeenskapslede, boere en wetstoepassers kon dit tydens die onluste afsper, en het saamgewerk om plunderaars te keer.
'n Lugfoto van die pad wat na die dorp Hluhluwe loop. Gemeenskapslede, boere en wetstoepassers kon dit tydens die onluste afsper, en het saamgewerk om plunderaars te keer.
Wat het jy in gemeen?
Of jy nou 'n kommersiële of 'n opkomende boer is, daar is kwessies wat almal raak – droogte, veiligheid en die behoefte om binne jou gemeenskap gerespekteer te word. Identifiseer die gemene delers en gebruik dit om besprekings aan te moedig. Betrek soveel belanghebbendes as moontlik, van taxibase tot geloofsleiers.
Daar word ook gereeld vergaderings gehou, waar gemeenskaplike probleme en kwessies bespreek word en boere en tradisionele leiers saam probeer om oplossings te vind.
Finansiering van veiligheid
Aanvanklik sal jy self jou sak moet skud vir hulpbronne soos kringtelevisiekameras en veiligheidspatrollies. Geldelike belonings kan ook bydra tot inligting wat lei tot die inhegtenisneming van 'n verdagte, of 'n klopjag op 'n misdaadsindikaat. Moenie huiwer om vir donasies te vra nie. Wanneer mense die tasbare voordele sien, soos misdaad wat afneem, is hulle gewoonlik heel gewillig om ook by te dra.
Kontak
Web: www.kwanalu.co.za
E-pos: peterjohn@silvasands.co.za
Tel: +27 (0)33 342 9393