Oor die kole

Moenie huiwer om dié Kersfees ’n vleisie op die kole te gooi nie. Dit gee ’n eg Suid-Afrikaanse geur aan die feestyd.

Kry toegang tot dié resepte, vorige Landbou Boerekos-uitgawes en vele meer teen net R30 per maand vir 12 maande.
*Bepalings en voorwaardes geld.

Lamsribsosaties met appelkooskonfyt en knoffel

Omdat ontbeende rib eintlik lank en baie stadig gebraai moet word, kroek ek hier ’n bietjie en maak die vleis vooraf gaar. Al wat dan oorbly, is om die kebabs oor die kole te braai en met die heerlike bedruipsous te verf tot dit goudbruin en klewerig is.

2 heel, ontbeende lamsribbes, in blokkies van 3 cm x 3 cm gesny en op sosatiestokke geryg
Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
10 ml fyn komyn
10 ml gemaalde koljander
250 ml water

Bedruipsous
80 ml bruinasyn
60 ml gladde appelkooskonfyt
10 ml soet rissiesous
5 ml braaisous van jou keuse

Voorverhit die oond tot 160°C (of gebruik ’n ketelbraai vir hierdie stap).Geur die kebabs goed met sout en peper en pak dit in ’n enkellaag in ’n oondbak. Meng die komyn en koljander en sprinkel dit oor die vleis. Giet die water om die kebabs in die bak. Bedek met ’n laag bakpapier en dan met ’n laag dik foelie. Bak vir ongeveer 1 uur tot die vleis gaar is. Haal uit die oond en laat afkoeltot kamertemperatuur.(As jy nie dadelik gaan braai nie, verkoel die vleis tot 1 uur voor jy dit wil braai.) Meng ál die bestanddele vir die bedruipsous saam. Pak die ribkebabs in ’n toeklaprooster. Braai oor matige kole,terwyl jy gereeld die vleis met die bedruipsous bestryk en gereeld die rooster omdraai. Braai tot die kebabs goudbruin en klewerig is. Verwyder van die rooster en sit voor met slaai of groente van jou keuse.

Lewer 12 kebabs (6 porsies).

Kerrie-varkneksosaties

’n Sosatie of kebab is ’n gunsteling-handkos. Kikker dit op marinades en souse.

Kaasgevulde beesfilet

Filet bly maar ’n gewilde keuse omdat dit altyd sag en (as dit goed gaargemaak is) sappig is.

Prego-steakrolletjies

Dié steakrolletjies kan as ’n heerlike voorgereg geniet word voor jou Kersmaaltyd.

Beeskortribpot met rooiwyn, soetrissie en sampioene

Kortrib is ’n wonderlike snit om potjiekos mee te maak. Die vleis is sappig en heerlik geurig omdat dit aan die been bly terwyl jy dit gaarmaak.

90 ml olie 4 kg beeskortrib (of platrib), in porsies gesaag
Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
2 groot uie, in dun wiggies gesny
’n Hand vol vars tiemietakkies
30 ml gekapte vars roosmaryn
30 ml fyngekapte vars knoffel
125 ml tamatiepasta
1 bottel (750 ml) rooiwyn (ek het Cabernet franc gebruik)
Ongeveer 1,5 liter beesvleisaftreksel
15 ml gerookte paprika
4-5 groot rooi soetrissies, in dik repe gesny
1 kg gemengde sampioene, in growwe stukke gesny
Sout, suiker en swartpeper
Gremolata, om af te rond

Verhit die olie in ’n groot swartpot oor warm kole en geur die kortrib mildelik met sout en peper voor jy dit in sarsies in die swartpot bruin braai. Skep die laaste vleis uit en sit dan die uie, tiemie en roosmaryn in die pot. Braai tot die uie begin sag word en voeg die knoffel, en ’n paar tellings later, die tamatiepasta by. Braai vir 2 minute voor jy die rooiwyn byvoeg. Roer deur en laat die wyn vinnig opkook. Voeg 500 ml aftreksel by en skep al die vleis terug in die pot.

Sit die deksel op en laat dit taamlik stadig oor matige kole prut tot die vleis amper sag is, vir ongeveer 2½ tot 3 uur. Kyk gereeld dat daar genoeg vloeistof in die pot is, en dat die kole nie te warm is en die pot onderin laat aanbrand nie. As die vloeistof min raak, vul dit met water aan.

Wanneer die vleis sag is, meng die paprika met die res van die aftreksel en voeg dit by die vleis saam met die soetrissies en sampioene. Geur met sout, ’n bietjie suiker en peper. Sit die deksel terug en prut vir nog 30 minute. Haal die deksel af, krap ’n paar rooiwarm kole onder die pot in en laat die pot vinniger prut om af te kook tot die sous effens verdik en geurig is. Sprinkel gremolata oor en sit voor op rys of krummelpap.

Lewer 24-28 porsies.

Kaas-en-rissiebrood

Pleks van knoffelbrood of braaibroodjies, probeer hierdie treffer vir jou Kersfeesbraai.

Varktjops in kerriesous

Wat is dan nou lekker as ’n varktjoppie in kerriesous dié Kersfees?

Gemarineerde lamsribbetjies

Jy sal nie maklik nee kan sê vir die smeltsag lamsribbetjie nie.

Tamatiebeesstert-
potjie

’n Beesstertpotjie bly vir my een van die lekkerste soorte potjiekos om te maak (en te eet!). Prut die beesstert baie lank en baie stadig. Hou die kole matig sodat die sous nie aanbrand nie. Ek het dit voorgesit op romerige mieliepap wat ek met botter, parmesaankaas en fyngekapte roosmaryn gegeur het, maar kapokaartappel, rys of koeskoes sal net so lekker werk.

2-3 kg beesstert, in litte gesaag
Sout en vars gemaalde swartpeper
Olyfolie
2 uie, grof gekap
5 knoffelhuisies, grof gekap
6 stele seldery, grof gekap
2 blikke (410 g elk) gekapte tamaties
750 ml goeie beesvleisaftreksel
250 ml rooiwyn
125 ml rooi muskadel
Paar takkies vars roosmaryn

Geur die beesstert met sout en peper. Verhit ’n skeut olyfolie in ’n groot swartpot tot baie warm en braai die vleis in lotte daarin bruin. Skep die laaste lot vleis uit en krap van die kole onder die pot weg. Voeg nog ’n bietjie olie by, indien nodig. Braai nou die uie, knoffel en seldery in dieselfde pot tot dit begin sag word en skep dan die vleis terug in die pot.

Voeg die tamaties, aftreksel, rooiwyn, muskadel en roosmaryn by. Bedek die pot en laat staan dit oor koel tot matige kole. Laat dit vir 4-5 uur saggies prut (onthou om ’n vuurtjie ’n entjie van die pot af aan die gang te hou sodat jy nou en dan ’n paar kole het om onder die pot in te stoot).

Loer elke uur of wat in die pot en beweeg die vleis ’n bietjie rond, maar moenie te veel roer nie. Die geheim van beesstert is om dit lank en stadig gaar te maak en om te sorg dat daar deurgaans genoeg vloeistof is. Wanneer die vleis van die bene begin loskom, is die potjie reg om te geniet.

As die pot in hierdie stadium nog baie souserig is, krap ’n paar warm kole onder die pot in en laat die sous ’n bietjie afkook. Skep die smulsagte beesstert op romerige polenta of kapokaartappels en geniet.

Lewer 8 porsies.

Soet-en-taai hoenderdye

Die kombinasie van suiker en tamatiesous is ’n wenner. Onthou om die dye gereeld te draai.

Hoender-en-patatpot

Hierdie geurige potjie het ’n eksotiese kerriesmaak. Dis heerlik en vinnig gaar.

Maalvleispot met kluitjies

Sit dié pot voor die Kersfees voor met tuisgemaakte piekels en slaaie.

Keer terug na die tuisblad.