Nuwe daeraad breek aan in Oos-Vrystaat

Mafube beteken "nuwe daeraad" in Sesotho en danksy boere, gemeenskapsleiers en sakelui soos Chris Bosch, Jannie Schabort, Johnny Mokoena en Hans Pretorius wink daar inderdaad lig anderkant die oosterkim vir dié deel van die Oos-Vrystaat.

Die regrukridders van Mafube- munisipale distrik: Van links is Jacques Jansen van Vuuren, bestuurder van die Mafube Business Forum (MBF), Hans Pretorius, stigterslid van die MBF en voorsitter van Mafube First, Johnny Mokoena, leier van Mafube First, en Jannie Schabort, voorsitter van die MBF. Foto: Mlungisi Louw

Die regrukridders van Mafube- munisipale distrik: Van links is Jacques Jansen van Vuuren, bestuurder van die Mafube Business Forum (MBF), Hans Pretorius, stigterslid van die MBF en voorsitter van Mafube First, Johnny Mokoena, leier van Mafube First, en Jannie Schabort, voorsitter van die MBF. Foto: Mlungisi Louw

"Ons oplossing gee hoop. Die gemeenskap het beheer van hul eie lot geneem. Huispryse in Frankfort styg en misdaadsyfers daal.”

Chris Bosch, uitvoerende hoof van Rural Maintenance Free State (RFS), het tydens die Oplossings vir die Platteland-konferensie die sukses van die Mafube-gemeenskap in die Noordoos-Vrystaat benadruk. Dit was egter nie 'n maklike pad nie.

Rural Maintenance en sy Vrystaatse been, Rural Maintenance Free State (RFS), het aanvanklik 'n ooreenkoms met Eskom gesluit om die sonkragaanleg buite Frankfort te benut vir beurtkragvermindering deur elektrisiteit direk van die aanleg na die verspreidingsnetwerk in te voer. Voordat die sonkragaanleg gebou is, is herstelwerk eers aan die verspreidingsnetwerk gedoen en is dit verbeter.

Dit sou Frankfort se afhanklikheid van Eskom verminder en gevolglik ook sy inwoners verligting van beurtkrag bied. Aanvanklik het die kragmaatskappy ingestem, maar later van plan verander. Rural Maintenance het dit in die hof betwis met 'n dringende interdik teen Eskom, maar dit is van die hand gewys. Sedertdien word Frankfort gedwing om by Eskom se amptelike beurtkragskedules te hou, grootliks omdat die Mafube-munisipaliteit nie hul saak ondersteun het nie.

 

Krag vir 'n gemeenskap

Ongeag hofgedinge en munisipale burokrasie blyk dit tog asof Frankfort nog voor die einde van die jaar beurtkragvry gaan wees. RFS het kort ná die “Oplossings”-konferensie planne bekend gemaak om die hele Mafube- munisipale gebied uiteindelik van Eskom-beurtkrag te bevry, 'n eerste volhoubare poging in Suid-Afrika deur private burgers en besighede om hierdie kwessie aan te spreek. Chris meen samewerkingsooreenkomste soos dié tussen die Mafube-gemeenskap en RFS kan ook deur ander plattelandse munisipaliteite en dorpe reg oor Suid-Afrika toegepas te word. Boonop is dit meer koste-doeltreffend as wanneer elkeen sy eie oplossing vind.

RFS se sonkragaanleg wek tans genoeg krag op om byna die hele Frankfort van elektrisiteit te voorsien. Nou brei RSF die infrastruktuur uit sodat al vier Mafube-dorpe – Frankfort, Villiers, Tweeling en Cornelia – by beurtkragverligting kan baat vind. 'n Sonkragaanleg van 980 KVA in die Villiers-omgewing voorsien krag aan pompe en spilpunte en gaan ook krag opwek vir 'n nuwe hidroponiese groenteboerdery. Sou daar 'n surplus van krag wees, word planne ook gemaak om dit aan die dorp Villiers te voorsien. In Tweeling is 'n 480 kVA-sonkragaanleg wat krag aan Tweeling voorsien.

Eskom het einde verlede jaar vir RFS toestemming gegee om beurtkragvermindering toe te pas, op voorwaarde dat ’n spesifieke vorm van krag gebruik word, "op-aanvraag versendbare krag", wat deur batterye en kragopwekkers verskaf word. 'n Toetslopie is stilweg in Frankfort se sakekern begin om verbruikers geleidelik van beurtkrag te bevry en toegang tot 24/7-elektrisiteit te gee.

As die gemeenskap saamstaan en aan boord kom, kan Frankfort teen September beurtkragvry wees. Villiers en Tweeling sal ook binnekort volg, lui 'n mediaverklaring van RFS.

Boere doen dit self
"Ons kan nie meer vir die regering wag vir verandering en dienslewering nie. Gemeenskappe moet betrokke raak en self oplossings vir hul dorpe soek – anders is daar eenvoudig nie hoop nie. Dit gaan daaroor om die distrik aanloklik te maak vir belegging en sodoende werkloosheid aan te pak," sê Hans Pretorius, plaaslike boer en voorsitter van Mafube First, 'n gemeenskapsorganisasie wat op dienslewering konsentreer.

Hans is een van die 21 aandeelhouers wat in die sonkragaanleg belê het. Geen bank wou die projek finansier nie. Met finansiering en eie ekwiteit van 21 aandeelhouers is die aanleg binne 'n jaar gebou.

Die RFS werk ook saam met die Mafube-besigheidsforum om inwoners en besighede binne die munisipaliteit betrokke te kry en in te lig oor die voordele wat dit inhou.

Die Mafube-inwoners het rekeninge vir dienste gekry wat nie gelewer word nie. Hans, die voormalige voorsitter van die MBF en vierdegeslagboer in die Riemland-distrik, het met 'n plan vorendag gekom om die munisipaliteit te dwing om sy pligte na te kom en daar is 'n regsdispuut teen die munisipaliteit verklaar. Om hierdie plan uit te voer, is die Mafube-besigheidsforum (MBF) gestig.

Onder die MBF het 'n model van georganiseerde landbou en gemeenskapsbetrokkenheid ontstaan en dié model kan in enige munisipaliteit gedupliseer word, sê Jannie Schabort,  ’n vyfdegenerasieboer van Frankfort en die hoof van die MBF.

"Die gemeenskap het die reg om munisipaliteite te beheer. Ons het vyf jaar gelede besluit ons wil nie deel wees van 'n platform waarop gekla word nie. Ons soek 'n volhoubare stelsel. Geen politieke party of struktuur gaan jou red nie. Daai 'julle' is ons. As ons dit nie self gaan doen nie, gaan ons niks regkry nie."

Hulle het opnames gemaak van watter plaas aan watter boer behoort en gekyk watter grond val onder een van die sewe boereverenigings in die distrik – Cornelia, Graskop, Riversdal, Skurwekop, Tweeling, Van Reenenskop en Villiers.

Die sewe boereverenigings is toe genader met die idee dat boere 'n heffing van R18/ha per jaar in 'n rekening betaal waaruit die verenigings self vir dienste, soos die onderhoud van paaie en veiligheid, betaal. Dié boere kry drie keer per jaar 'n rekening van die Mafube-distrikslandbou-unie (DLU), wat die geld invorder. Uit dié geld word 92% aan die onderskeie boereverenigings uitbetaal en die 8% wat oorbly, word gebruik vir administrasie, salarisse en gesamentlike projekte.

"Ons het nie die belastinggeld wat ons weerhou het, gebruik om 'n parallelle struktuur te skep nie; ons het bykomende geld van die boere gevra om dienste tot voordeel van almal te lewer," benadruk Jannie.

"Dit is 'n model wat nie net ons dorp gered het nie, maar ook die potensiaal het om op 'n breër skaal toegepas te word. Dit dra by tot die algehele verbetering van ons land se plattelandse gemeenskappe," sê hy.

Bereid om te betaal
Danksy die toelae van R18 per hektaar – nie belastinggeld nie – word R7 miljoen per jaar ingesamel. Nagenoeg 90% van die boere is aan boord. Wanneer mense 'n diens kry, betaal hulle, sê Chris. Talle van Suid-Afrika se probleme bestaan omdat gewillige mense met werkbare oplossings belet word om dit binne hul gemeenskappe toe te pas.
Die afgelope 12 jaar was daar net 62 gevalle in die Mafube-gemeenskap, met sowat 15 000 inwoners, waar mense nie hul munisipale rekeninge betaal het nie, het Chris tydens die konferensie gesê.
"Só 'n gemeenskap benodig nie goed soos voorafbetaalde elektrisiteitsmeters nie. Die syfers bewys dit; wanneer hulle dienslewering ontvang, betaal hulle rekeninge."

'n Lugfoto van een van RFS se sonkragaanlegte. Daar word tans genoeg sonkrag opgewek om byna die hele Frankfort van elektrisiteit te voorsien. Nou brei RSF die infrastruktuur uit sodat al vier Mafube-dorpe – Frankfort, Villiers, Tweeling en Cornelia – by beurtkragverligting kan baat vind. Foto: Elizabeth Sejaka/RAPPORT

'n Lugfoto van een van RFS se sonkragaanlegte. Daar word tans genoeg sonkrag opgewek om byna die hele Frankfort van elektrisiteit te voorsien. Nou brei RSF die infrastruktuur uit sodat al vier Mafube-dorpe – Frankfort, Villiers, Tweeling en Cornelia – by beurtkragverligting kan baat vind. Foto: Elizabeth Sejaka/RAPPORT

Bly binne die wet

Dispute om belastinggeld te weerhou is op ’n regstegniese manier verklaar om te bewys boere is bereidwillig om belastinggeld te betaal.

Die eerste stap was om stappe te doen teen 'n munisipaliteit wat nie sy verpligtinge nakom nie.

Jannie waarsku daar is hope papierwerk en burokratiese rompslomp betrokke en die wiel van geregtigheid draai maar stadig.

"Jy moet egter kan bewys jy het alle moontlike maniere gebruik om op billike maniere met die ANC saam te werk. Jy begin deur 'n papierspoor saam te stel wat rekord hou van alle kommunikasie met die owerhede. 'n Deeglike papierspoor is uiters belangrik, want ons moes bewys dat ons alles in ons vermoë gedoen het om die munisipaliteit te betrek om ons probleme op te los."

Ontmoontlik sonder samewerking

"Ons munisipaliteit is gebaseer op die krag van gemeenskapsdeelname. Ons is oortuig dat elke lid van die gemeenskap die reg het om by te dra tot die bestuur van hul munisipaliteite," Hans.

Die energiereguleerder Nersa, wat sy hande gewas het van die regsgeding tussen Rural Maintenance en Eskom, was een van die dryfvere agter die stigting van Mafube First, 'n gemeenskapsorganisasie wat homself beskikbaar gaan stel in die volgende munisipale verkiesing.

Hans en sy vennoot Johnny Mokoena beskryf Mafube First as 'n swart inisiatief met wit steun, en dit is gegrond op 'n driebeenplan. Hans en Johnny het tydens die konferensie klem gelê op hoe belangrik oop kommunikasie en wederkerige respek is vir dié tipe organisasies.

"As jy 'n verskil in jou gemeenskap wil sien, gaan soek die mense, wit en swart, wat gatvol is vir swak dienslewering en nie meer wag dat iemand anders of die regering gaan ingryp nie," is hul raad.

Gemeenskapsamewerking is die geheim tot sukses, maar ego's moet eenkant toe geskuif word, sê Chris. In boeregemeenskappe moet die verskille tussen landbou-unies en ander landbou-instellings ook eenkant toe geskuif word. "As jy nou één rede wil hê om van jou buurman te begin hou, is dit om saam met hom aan dieselfde vooruitsig te werk. Daarna kan julle weer stry kry. My ouma het gemeen dis buitendien lekkerder om in die koelte as in die son te baklei," sê hy.

Kontak

Rural Maintenance
Web: www.ruralmaintenance.co.za
Tel: 060 537 9408
E-pos: mafubefirst@gmail.com

Mafube Business Forum
Web: www.mafubebf.org
E-pos: info@mafubebf.org
Tel: 079 145 42950