Jou kring van invloed is groter as wat jy dink

Lion du Plessis, uitvoerende hoof van Du Plessis Boerdery en voorsitter van Children @ Play (C@P)

Lion du Plessis boer met vee en gesaaides buite Ermelo in Mpumalanga. Tussendeur alles het hy ook 'n passie vir filantropie en gemeenskapsbemagtiging, wat hy deur C@P, 'n openbare liefdadigheidsorganisasie, laat geskied.

Lion du Plessis, uitvoerende hoof van Du Plessis Boerdery en voorsitter van Children @ Play.

Lion du Plessis, uitvoerende hoof van Du Plessis Boerdery en voorsitter van Children @ Play.

Lion du Plessis, 'n boer van Ermelo, is pynlik bewus van die struikelblokke wat plaaswerkers en boere daagliks moet trotseer hy het immers self op 'n plaas buite Ermelo grootgeword.

In 2009, toe hy nog in die korporatiewe sektor gewerk het, het hy C@P (Children @ Play), 'n liefdadigheidsorganisasie, begin om plaaswerkers se kinders uit armoede te lig. Drie jaar later het Lion heeltyds begin boer en C@P nog verder uitgebrei. Die projek wou aanvanklik kinders by sport betrokke kry, maar vandag het C@P verskeie takke wat konsentreer op voedingskemas, geletterdheid en gesondheid, skryfbehoeftes aan plaaslike skole voorsien, en die Woord verkondig.

In 2019 was hy, as die voorsitter van die Ermelo-Oos-boerevereniging, 'n belangrike rolspeler in die Ermelo vir Loxton-projek, waarby Ermelo se boere bystand verleen het en Loxton se boere moed ingepraat het tydens 'n verlammende droogte.

C@P Food se jongste projek, "Gemeenskapstuine", betrek ook Du Plessis Boerdery se plaaswerkers om tot die plaasgemeenskap se voedselsekerheid by te dra. Hy deel die volgende raad om die impak van welwillendheidsprojekte te vergroot.

Dit begin by jou plaas
Boere besef nie aldag hul invloed binne hul gemeenskap nie. Saam met die invloed kom daar ook verantwoordelikheid. Meer as 100 mense maak staat op ons plaas vir hul brood en botter dus kan ek nie net aan my eie sak en behoeftes dink nie. Jy moet die groter prentjie sien. Wanneer jou werknemers en hul gemeenskappe gedy, sal jou boerdery ook die vrugte daarvan pluk.

Die Ermelo-Oos-boerevereniging se Ermelo vir Loxton-projek het in 2019 aan Karoo-boere van Loxton droogteverligting gebied deur sakke voer, medisyne en ander hulpbronne na die droogtegeteisterde gebied te stuur.

Die Ermelo-Oos-boerevereniging se Ermelo vir Loxton-projek het in 2019 aan Karoo-boere van Loxton droogteverligting gebied deur sakke voer, medisyne en ander hulpbronne na die droogtegeteisterde gebied te stuur.

Laat jou werknemers hulself bemagtig
Met "Gemeenskapstuine" wil ons trots, selfstandigheid en voedselsekerheid onder ons gemeenskappe skep. Die model werk só: Die boer stel 'n hektaar van sy grond naby sy werknemers se verblyf beskikbaar waar hulle hul eie groente, groenmielies en droëbone kan verbou. Die projek het twee reëls vir volhoubare sukses.
Eerstens moet jou werkers en hul gemeenskap eienaarskap neem van die tuin. Jy kan help om die grond voor te berei, maar die grootte van die oes hang af van die moeite en werk wat ingesit word. Tweedens: Elke huisgesin of groep is verantwoordelik vir hul eie beddings. Dit voorkom dat net 'n paar "pliggies" al die kos produseer en skep ook gesonde mededinging onder mekaar namate huishoudings mekaar se oesopbrengste probeer oortref.

'n Trekker help om die grond voor te berei vir C@P Food se Gemeenskapstuine-projek. Boere kan help hiermee, maar die werknemers moet verantwoordelikheid vir die res van die projek neem.

'n Trekker help om die grond voor te berei vir C@P Food se Gemeenskapstuine-projek. Boere kan help hiermee, maar die werknemers moet verantwoordelikheid vir die res van die projek neem.

Ondersteun boere buite jou gemeenskap
Die Ermelo-Oos-boerevereniging se Ermelo vir Loxton-projek in 2019 het Karoo-boere van Loxton droogteverligting gebied deur sakke voer, medisyne en ander hulpbronne na die droogtegeteisterde gebied te stuur.

Hulp hoef nie altyd materieel of geldelik te wees nie. Ons het die Loxton-boere laat weet; ons sien jul struikelblokke en verstaan dit, want ons is ook boere. As julle 'n oor nodig het om te luister, of 'n skouer om op te huil, laat ons weet.

Die projek is aanvanklik gefinansier met geld wat die vereniging vir hul jaareindgeselligheid begroot het, maar later het plaaslike besighede en Ermelo se inwoners ook betrokke geraak. Die projek wys wat moontlik is as boeregemeenskappe na mekaar uitreik en solidariteit onder mekaar kweek.

Betrek bondgenote
Goeie sakeverhoudings is noodsaaklik vir goeie winslyne, maar dit is ook voordelig vir filantropiese en liefdadigheidsprojekte. Van my vennote het al ongelooflike skenkings gemaak, soos logistieke bystand om skenkings by behoeftiges uit te kry. Die Ermelo vir Loxton-projek sou ook nie so suksesvol gewees het sonder die Ermelo-sakesektor nie. Plaaslike besighede het skryfbehoeftes vir Karoo-kinders geskenk en ook skenkings gemaak om voer en veemedisyne te koop. Met 'n projek soos die Gemeenskapstuine kan koöperasies en saadverskaffers kunsmis, toerusting en saad borg sodat die onus nie net op die boer rus nie. Die hele landbousektor moet hande vat om stabiliteit, veiligheid en voedselsekerheid op die platteland aan te moedig.

Kry jou papierwerk in orde
Die meeste mense gee onvoorwaardelik, sonder om iets terug te verwag. Nietemin kan jy meer skenkers lok en hulle beloon deur jou projek as 'n niewinsgewende organisasie (NWO) en openbare weldaadorganisasie (OWO) te registreer wat talle belastingvoordele inhou. C@P is as albei geregistreer en ons reik Artikel 18A-sertifikate vir skenkings uit, wat weldoeners dan van hul belasting kan verhaal. Dit hou ook nie net voordele by Jan Taks in nie. OWO’s en NWO’s moet aan streng wetgewing gehoor gee wat goed is vir deursigtigheid. Die wet spesifiseer dat die organisasies niewinsgewend is en enige geld wat ingesamel word, weer on die organisasie teruggeploeg moet word.

 

Kontak

E-pos: lion@childrenatplay.org.za of info@childrenatplay.org.za
Web: www.childrenatplay.org.za

SAID-gids vir 18A-goedkeuring:
South African Revenue Service's Basic Guide to Section 18A Approval