Kersgebak en -koekies
Wat is die feestyd sonder ’n blik tuisgebakte koekies of Kersgebak? Maak betyds die blikke vol met ’n keur van ons beste resepte.
Kry toegang tot dié resepte, vorige Landbou Boerekos-uitgawes en vele meer teen net R30 per maand vir 12 maande.
*Bepalings en voorwaardes geld.
Vlakoekies met kersies
125 g sagte botter
60 ml gesifte versiersuiker
5 ml vanieljegeursel
215 ml koekmeel
60 ml vlapoeier
Versiersel
250 ml versiersuiker, gesif
’n Paar druppels suurlemoensap
10 rooi glanskersies, in kwarte gesny
Voorverhit die oond tot 180 °C en voer ’n paar bakplate met bakpapier uit. Bespuit liggies met kleefwerende kossproei. Verroom die botter, versiersuiker en vanieljegeursel goed saam. Voeg die meel en vlapoeier by en meng tot die mengsel net-net bymekaar kom. Rol in bolletjies en pak op die bakplate.
Gebruik ’n vurk of ander voorwerp om die koekies effens platter te druk. Bak vir 12-15 minute tot gaar. Laat die koekies vir 5 minute op die bakplate afkoel en pak dan op draadrakke om verder af te koel. Meng die versiersuiker en net genoeg suurlemoensap om ’n dik drupversiersel te vorm.
Skep ’n bietjie van die versiersel op elke koekie en druk ’n kwart kersie versigtig bo-op vas. Laat staan tot die versiersel hard is en bêre in ’n lugdigte houer. Lewer 40 koekies.
Sitrusklapperblokkies met kersies
2 pakkies (200 g elk) Marie-beskuitjies
125 ml botter
80 ml suiker
250 ml kondensmelk
1 elk lemoen, mandaryn en suurlemoen of lemmetjie
250 ml klapper
80 ml rooi glanskersies, fyngesnipper
Bespuit ’n koekpan van 20 cm x 20 cm met kleefwerende kossproei en voer dit met twee stukke bakpapier uit.
Bespuit die bakpapier ook met kossproei.
Sit die koekies in ’n verseëlbare plastieksak en rol ’n koekroller of ander swaar voorwerp daaroor tot dit fyn krummels is. Gooi die koekiekrummels uit in ’n groot mengbak.
Sit die botter, suiker en kondensmelk saam in ’n kastrol. Verhit dit stadig oor baie lae hitte, terwyl jy roer, tot die suiker gesmelt is, maar moenie die mengsel laat kook nie. Skakel die stoofplaat af. Rasper die skil van al drie sitrusvrugte fyn en voeg dit by die kondensmelkmengsel.
Sny die vrugte middeldeur en druk die sap uit. Voeg die sap ook by die kondensmelkmengsel en roer deur. Voeg die klapper en kersies by die fyngemaakte koekies en roer dit goed deur.
Voeg nou die kondensmelk-en-sitrusmengsel by en meng goed (maak seker jy krap die kastrol goed uit, sodat jy die laaste bietjie van die kondensmelkmengsel byvoeg).
Meng alles baie goed saam. Keer die mengsel uit in die voorbereide pan en druk dit met jou handpalms stewig en egalig in die pan vas.
Sit in die yskas om te stol. Sny in blokkies wanneer gestol en bêre in ’n lugdigte houer in die yskas. Lewer 25-30 blokkies
Sjokoladeklapperkoekies
Hierdie resep vir tuisgemaakte Romany Creams was een van die eerstes wat ek ooit gebak het vir ’n fotosessie. Dit is só lekker, ek gebruik dit vandag nog. Die geheim, soos met die meeste koekieresepte, bly maar egte botter, asook goeie sjokolade.
250 g sagte botter
250 ml strooisuiker
625 ml fyn klapper
500 ml koekmeel
80-100 ml kakao
5 ml bakpoeier
’n Knippie sout
100 g donker- of melksjokolade, fyngekap
Voorverhit die oond tot 180 °C en voer twee bakplate met bakpapier uit. Bespuit liggies met kleefwerende kossproei.
Verroom die botter en strooisuiker goed saam tot lig en donsig. Voeg die klapper by en klop deur. Sif die meel, kakao, bakpoeier en sout oor en meng goed tot ’n deeg vorm.
Skep die deeg met ’n teelepel uit, rol in bolletjies en pak dit op die voorbereide bakplate. Druk elke bolletjie deeg effens plat met ’n vurk of met jou vingerpunte.
Bak vir 10-12 minute tot die koekies gaar is. (Dit sal nog sag wees.) Laat staan vir ’n paar minute op die bakplate om verder af te koel en hard te word voor jy dit versigtig op draadrakke aflig om heeltemal af te koel.
Smelt die sjokolade tot glad en plak die koekies opmekaar met ’n lagie sjokolade in die middel. Pak weer op die draadrakke tot die sjokolade hard is voor jy dit in koekblikke bêre.
Lewer ongeveer 35 dubbele koekies.
Kersgebak
My ma se Kerskoek
Dis die Kerskoek waarmee ek grootgeword het en daarom vir my steeds die lekkerste van almal. Kersvakansies is nie volmaak sonder so ’n vrugtekoek in my huis nie.
250 ml water
310 ml suiker
250 g pitlose rosyne
250 g dadels, gesnipper
250 g groenvyekonserf, grof gesny
100-200 g pekanneute, grof gekap
7 ml koeksoda
250 g botter
200 g rooi glanskersies, grof gekap
3 eiers, geklits
5 ml vanieljegeursel
125 ml brandewyn
625 ml bruismeel
3 ml sout
Voorverhit die oond tot 120 °C (250 °F) en smeer ’n hoë pan van 25 cm met botter. Voer uit met drie lae bakpapier (op die boom en teen die kante) en smeer weer.
Verhit die eerste agt bestanddele stadig saam tot kookpunt en prut vir vyf minute. Verwyder van die hitte en laat afkoel. Voeg die kersies by. Voeg die eiers, vanielje en brandewyn by en roer goed. Voeg by die meel en sout en roer goed. Skep in die pan en bak vir twee uur tot deurgaar. Laat in die pan afkoel en keer uit.
Sprinkel ’n bietjie brandewyn oor en draai toe in foelie. Klam gereeld aan met nóg ’n bietjie brandewyn. Lewer een groot koek.









