Kersfeeskos

Wat ’n voorreg om saam met jou geliefdes te kan aansit en smul aan die allerheerlikste Kersfeeskos. Geniet die resepte.

Kry toegang tot dié resepte, vorige Landbou Boerekos-uitgawes en vele meer teen net R30 per maand vir 12 maande.
*Bepalings en voorwaardes geld.

Chakalaka-lepelvetkoekkrans met biltongpatee en kweperjellie

’n Maklike voorgereg propvol eg Suid-Afrikaanse smake. Omdat die vetkoekies so klein is (ek vorm dit met twee teelepels), verpulp ek eers die chakalaka voor ek dit by die beslag voeg sodat daar nie groot stukke groente in die beslag is nie.

Vetkoek
625 ml bruismeel
10 ml bakpoeier
’n Knippie sout
5 ml paprika
250 ml melk
60 ml olie
160 ml matig warm chakalaka, verpulp tot glad
2 eiers, geklits
125 ml fyngerasperde cheddarkaas
Olie, vir diepbraai

Meng die meel, bakpoeier, sout en paprika saam in ’n mengbak. In ’n ander bak, roer die melk, olie, chakalaka en eiers saam.

Voeg die kaas by die droë bestanddele in die bak en voeg die chakalaka-mengsel by. Maak aan tot ’n stywe beslag vorm.

Braai teelepels vol van die mengsel in warm olie tot egalig goudbruin en deurgaar. Dreineer op kombuispapier en laat afkoel.

Pak die vetkoekies in ’n kransvorm op ’n ronde dienbord. Versier met takkies spekboom en granaatpitte indien verkies en sit voor met botter of biltongpatee, kweperjellie of kaas en konfyt. Laat almal hulself help.

Lewer ongeveer 80 klein vetkoekies.

Biltongpatee

180 ml fyngesnipperde biltong
30 ml dik mayonnaise van goeie gehalte
3 ml varsgemaalde swartpeper
’n Halwe houer ongegeurde, gladde maaskaas
’n Halwe houer ongegeurde roomkaas

Verwerk al die bestanddele saam in ’n voedselverwerker tot glad. Skep die patee in ’n houer, bedek lugdig en verkoel tot benodig. Gebruik binne 3 dae.

Lewer 310 ml patee.

Vyehappies

Die happies is perfek om met ’n glas vonkelwyn voor te sit.

Gemmerlim-soutvarkboud

Probeer die Kersfees jou gerookte varkboud in gemmerbier gaarmaak – dis onverbeterlik.

Hoendersampioen-fillopastei

As jy gedink het dis te veel moeite om hoenderpastei te maak, dink weer!

Ontbeende lamsboud met neut-gratin

Haselneute, pekanneute of botterige makadamianeute ... Vir rykheid, geur en ’n bros knars op jou bord, voeg net ’n hand vol neute by.

1 ontbeende lamsboud van ongeveer
1,3 kg, oopgevlek
8 knoffelhuisies
Olyfolie
Worcestersous
Seesout en varsgemaalde swartpeper
’n Paar takkies roosmaryn

Bolaag

250 ml vars broodkrummels
1 knoffelhuisie, fyngerasper
30 ml olyfolie
100 ml rou makadamianeute, fyngekap
80 ml pimperneute, grofgekap
10 ml fyngekapte vars salie of tiemie
Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak
’n Bietjie soetwyn en room, vir die vleissous

Voorverhit die oond tot 200 °C.

Steek gaatjies oral oor die boud met ’n skerp dunlemmes. Sny elke knoffelhuisie middeldeur (of selfs kleiner) en steek ’n stukkie knoffel in elke gaatjie.

Smeer die vleis goed met olyfolie en besprinkel ruimskoots met worcestersous, seesout en swartpeper.

Sit die boud in ’n oondbak op ’n bed van roosmaryntakkies neer. Oondrooster vir 40 minute.

Verlaag die oondtemperatuur tot 150 °C en bak stadig verder vir nog sowat 40 minute (of 1 uur as jy van vleis goedgaar hou).

Haal die boud uit die oond, bedek losweg met foelie en laat staan terwyl jy die bolaag maak.

Bolaag: Meng al die bestanddele saam en skep dit oor die vleis. Druk dit liggies op die vleis vas met jou vingers.

Oondrooster die vleis sonder ’n deksel vir ongeveer 20 minute tot die krummellaag goudbruin en lekker bros is.

Haal die vleis uit die oond en laat dit vir ’n paar minute rus.

Maak ’n vleissous van die pansouse, ’n bietjie soetwyn en room en sit dit voor saam met die vleis.

Lewer 6 porsies.

Gebakte hoenderlewerpatee met sjerrie-sampioene en kruieslaai

’n Fluweelsagte, ryk patee wat smelt in die mond.

Heuning-geroosterde botterskorsie met kaneel en pekanneute

Die heerlike groentegereg kan warm of teen kamertemperatuur voorgesit word.

Slaai met tamaties, avokado, aspersies en basilievinaigrette

Bederf jou gaste met dié slaai met sy gemarineerder tamaties en avokado.

Gerolde beesfilet met makadamia- spek-en-bloukaas-vulsel

Om ’n gerolde filet maklik oor die kole gaar te maak, is ’n ketelbraai (of braai wat kan toemaak) jou beste opsie. Maar jy kan dit ook daarsonder doen: Seël eers die filet oor baie warm kole tot egalig goudbruin rondom. Lig dan die rooster en krap die kole oop.

Vulsel

1 pak (250 g) gesnipperde spekvleis
500 ml vars witbroodkrummels
60 g bloukaas, gekrummel
125 ml geroosterde, fyngekapte makadamianeute
5 ml vars tiemie- of salieblaartjies
Varsgemaalde swartpeper na smaak
1 heel beesfilet van ongeveer 1,5 kg
Sout, peper en mosterdpoeier na smaak
Olyfolie

Vulsel: Braai die spek in ’n droë pan tot bros.

Sit die spek (en die uitgebraaide vet), vars witbroodkrummels, bloukaas, neute, kruieblaartjies en swartpeper in ’n voedselverwerker en pols een of twee keer tot goed gemeng.

Vlek die filet oop en geur binne en buite met sout, peper en mosterdpoeier.

Skep die vulsel in ’n egalige laag oor die vleis en rol die vleis rondom die vulsel toe. Bind die filet met kombuistou op. Bedruip met olyfolie en verkoel as jy dit nie dadelik gaan braai nie.

Maak net seker dat die vleis weer kamertemperatuur bereik voor jy dit op die kole sit. Braai die filet egalig goudbruin oor baie warm kole.

As jy ’n ketelbraai gebruik, maak die deksel toe en reguleer die temperatuur sodat dit by 190 °C bly. Rooster die vleis verder vir ongeveer 10-15 minute tot gaar na smaak.

Verwyder van die rooster, bedek losweg met foelie en laat rus die vleis vir 10 minute voor dit gesny word.

Lewer 8 porsies.

Gepluiste Griekse lamsblad

Hierdie doeksagte lamsblad word voorgesit met olyfolie-aartappels.

Beesfiletskywe met kruie

Die geurige beesfiletskywe kan jy net voor ete vinnig in die oond sit.

Gerolde, gevulde varklies

Die gereg sal beslis ’n aanwins wees op jou smullekker Kersfeesspyskaart.

Romerige peperwortelaartappel-slaai

Peperwortel gee net die regte hoeveelheid byt aan die ryk, romerige sous endit pas perfek by gerookte varkvleis.

Peer-en-roketslaai met mosterdvinaigrette

’n Vars groen slaai met peperige blare, bros teksture en ’n pikante sousie is ’n nommerpas bykos wat deur die vet van vleis sny.

Spanspek-en-nektarienslaai met feta en kruisement

Hierdie verfrissende slaai is perfek vir ’n warm somersdag en sal vir seker jou gaste laat vrae vir nog.

Keer terug na die tuisblad.