Golf 911 Centre: Beheerkamer vir 'n veiliger gemeenskap
Ian Hill, Golf 911-raadslid en direkteur
Jaco Breytenbach, boer van Fouriesburg en verteenwoordiger van die beheerkamer
Twee beheerkamers wat deur die gemeenskap bedryf word en deur private skenkings, besighede en intekenings gefinansier word, help om die Vrystaatse en KwaZulu-Natalse platteland 'n veiliger plek te maak.
Toe skares betogers en plunderaars KwaZulu-Natal in 2021 in chaos gedompel het, het Greytown taamlik ongedeerd daarvan afgekom, in vergelyking met sy buurdorpe. Dis te danke aan die flink reaksie van die Golf 911- (G911) sentrum, 'n niepolitiese organisasie sonder winsbejag met 'n sentrale beheerkamer wat sekuriteitsdienste in die area bestuur. Tydens die onluste kon G911 'n strategiese verdedigingsplan vir die streek ontplooi om die dorp teen plunderaars te beskerm.
'n Uitgebrande vragmotor voor die Shell-vulstasie langs die N2 tussen Durban en Empangeni in KwaZulu-Natal. Greytown is grootliks van dié soort skade gespaar, te danke aan die gemeenskap en G911 se samewerking. Foto: Deon Raath/Rapport
'n Uitgebrande vragmotor voor die Shell-vulstasie langs die N2 tussen Durban en Empangeni in KwaZulu-Natal. Greytown is grootliks van dié soort skade gespaar, te danke aan die gemeenskap en G911 se samewerking. Foto: Deon Raath/Rapport
“Die G911 is ’n 24/7-eenstopnoodsentrum vir die hele Greytown-omgewing in KwaZulu-Natal se veiligheid en sekuriteit,” vertel Ian Hill, Golf 911-raadslid en -direkteur.
'n Soortgelyke inisiatief help ook om misdaad in die Oos-Vrystaat te bekamp. Die Bethlehem-beheerkamer dien sewe distrikte in die Oos-Vrystaat – insluitend Bethlehem, Fouriesburg, Reitz, Clarens, Kestell en dele van Harrismith – met 'n ledetal van 509.
"Dit sluit in boere en ander plaaslike inwoners wat konsentreer op gemeenskapsveiligheid en -ondersteuning,” vertel Jaco Breytenbach, 'n boer van Fouriesburg en verteenwoordiger van die beheerkamer.
Die Bethlehem-beheerkamer se netwerk, wat die MarNet-stelsel gebruik, behartig elke oggend inroepings op agt verskillende radiostelsels, wat meer as 2 000 radio's bereik.
Wat veiligheidsoperasies betref, is die Bethlehem-beheerkamer verantwoordelik vir die bestuur van 'n gebied wat sowat 1,1 miljoen hektaar beslaan. Dit sluit in die aanmelding en bestryding van veldbrande, en reaksie op verskeie noodgevalle.
Greyton se beheerkamer word vanuit 'n sentrale beheerkamer op dié KwaZulu-Natalse dorp bestuur. Hier monitor personeel regstreekse beeldmateriaal van 'n uitgebreide kringtelevisiekamerastelsel en 'n radiokamer staan reg vir enige noodgeval, van 'n pap wiel tot 'n plaasaanval. Die sentrum het ook bygedra tot sterker bande tussen plaaslike wetstoepassingsowerhede, nooddienste, burgerregtelike organisasies en die publiek.
Die beheerkamer: 'n Spil waarom alles draai
Die sentrale beheerkamer is die hoeksteen van G911 se veiligheidstrategie. Die organisasie gebruik die jongste tegnologie om misdaad te bekamp, soos kringtelevisiekameras, gevorderde sagteware en direkte verbindings met nood- en wetstoepassingsowerhede. As 'n misdaad gepleeg word, kan die verdagte vinnig in hegtenis geneem word. Die netwerk van kringtelevisiekameras is toegerus met nommerplaatherkenningsagteware wat help om gesteelde motors op te spoor en beslag te lê op voertuie wat vir misdaad gebruik word.
Die organisasie span poligraaf-toetse, bekend as "Truthfinders", in om misdaad te beveg. Hommeltuie word ook vir operasionele beplanning ingespan. Dit gee G911 ’n beter oorsig van die terrein wat hy patrolleer en spoor swak en wegkruipplekke op wat nie op grondvlak altyd sigbaar is nie.
Tydens die Oplossings vir die Platteland-konferensie het Jaco 'n voorbeeld van doeltreffende reaksie van die beheerkamer genoem, toe hulle bystand kon lewer met 'n motorongeluk op die Clarens-pad.
Voordat die insittendes self oproepe na nooddienste gemaak het, het 'n plaaslike boer wat van die ongeluk bewus geword het, die beheerkamer gekontak. Dit het gelei tot vinnige optrede deur die beheerkamer, wat dadelik verkeersdienste en ambulanse na die toneel gestuur het. Hoewel die beheerkamer slegs 'n paar lede in elke dorp en distrik het, speel hul stelsel 'n beduidende rol in die plaaslike gemeenskappe.
Die sentrale beheerkamer is die hoeksteen van G911 se veiligheidstrategie en is toegerus met die jongste tegnologie om misdaad te bekamp.
Die sentrale beheerkamer is die hoeksteen van G911 se veiligheidstrategie en is toegerus met die jongste tegnologie om misdaad te bekamp.
Die Bethlehem-beheerkamer in syfers
• 7 – distrikte wat bedoen word
• 12 – heeltydse personeellede
• 10 023 – die aantal voorvalle wat personeel verlede jaar van Januarie tot Augustus hanteer het.
Dit sluit in: uitroep van 105 ambulanse, bestryding van 221 veldbrande en bystand tot twee plaasaanvalle
• R3,3 miljoen – die waarde van die gesteelde vee wat die beheerkamer kon terugkry
Jaco Breytenbach, 'n boer van Fouriesburg en verteenwoordiger van die beheerkamer. Foto: Nelia Richter
Jaco Breytenbach, 'n boer van Fouriesburg en verteenwoordiger van die beheerkamer. Foto: Nelia Richter
Samewerking die sleutel tot sukses
G911 se samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens, die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, verkeers-, brand- en ambulansdienste, Eskom, Telkom, die munisipaliteit, boereverenigings, brandverenigings, besighede, private sekuriteitsfirma's en inwoners is een van die kernbestanddele van hul suksesresep.
Die stelsel is só dpeltreffend om misdaad te bekamp dat KwaZulu-Natal se polisiegeneraals al kom kyk het hoe dit werk. Die sentrum deel ook sy tegnologie en hulpbronne met die polisie, wat die beheerkamer gebruik wanneer teenmisdaad-operasies in die omgewing uitgevoer word.
Dié goeie verhoudings was van onskatbare waarde tydens 2021 se Julie-onluste, toe die verdediging van die dorp vanaf die sentrum bestuur is om die dorp te beskerm.
G911 bied basiese selfverdedigingskursusse aan wat inwoners met vaardighede toerus om hulself te beskerm. Hy doen ook veiligheidsoudits van residensiële eiendomme en buurte om kwesbare plekke en veiligheidsrisiko’s uit te lig.
Die Greytown-omgewing se veiligheid en sekuriteit is die afgelope paar jaar opgeskerp te danke aan G911, 'n 24/7-eenstopnoodsentrum.
Die Greytown-omgewing se veiligheid en sekuriteit is die afgelope paar jaar opgeskerp te danke aan G911, 'n 24/7-eenstopnoodsentrum.
Leer by Bethlehem en Greyton
Betrek die plaaslike sakesektor. Greytown se plaaslike besighede en sakeleiers het gehelp om die sentrum te finansier, met tussentydse finansiering, totdat die sentrum sy koste kon dek.
Belê in tegnologie. Goeie tegnologie help met misdaadvoorkoming en verbeter die kans dat booswigte in hegtenis geneem word en lei tot suksesvoller vervolgings in die howe.
Almal moet aanboord kom. Betrek al die belanghebbendes in die gemeenskap – private sekuriteitsmaatskappye, openbare wetstoepassers, burgerlike groepe, verenigings en lede van die publiek. 'n Verdeelde gemeenskap is kwesbaar; 'n verenigde een gepantser teen misdaad en onlus.
Deel jou kennis. G911 se span het ander gemeenskappe, soos dié van Wartburg, Himeville, Vryheid, Pongola en Dundee, raad gegee oor hoe om soortgelyke sentrums by hulle op die been te bring. Namate meer van dié soort sentrums op die been gebring word, vergroot dit die kameranetwerk deur beheerkamers met mekaar se kameras te verbind. Die stelsel is só suksesvol in die bekamping van misdaad dat afvaardigings van die polisie en ander dorpe kom besoek aflê om dit moontlik na te boots.
Kontak
Umvoti Community for Law and Order – G911
Tel: 033 417 2911
E-pos: uas@umvoti.co.za
Jaco Breytenbach
E-pos: jjbreytenbach1961@gmail.com