Feestelike nageregte

’n Keur van nageregte om jou Kersete af te sluit.

Kry toegang tot dié resepte, vorige Landbou Boerekos-uitgawes en vele meer teen net R30 per maand vir 12 maande.
*Bepalings en voorwaardes geld.

Karamel-vrieskaskaaskoek

Hierdie is een van die maklikste, vinnigste en lekkerste karamelresepte wat ek ken.

Pepermenttert-roomyskoek

Wie is nie lief vir pepermenttert nie? Hierdie tert is perfek vir die somer.

Somerbessiepavlova

Maak die meeste van die bessieseisoen en gebruik dit in die vulsel en as versiering.

Aarbei-en-karamelkoekstruif

Toe ek ’n kind was, het ons hele familie Oukersaande by my oupa Danie en ouma Minnie op hul plaas Doringbos net om die draai vanwaar ek grootgeword het, gebraai. Oupa se kerrievarktjops en my ma se aartappelslaai was meestal deel van die spyskaart en altyd, altyd ouma se Kersfeeskoekstruif. Pleks van aarbeie het sy blikkiesvrugte gebruik waarby sy groot stukke groenvyekonserf gevoeg het. Die res van die resep was soos hierdie een, behalwe dat sy hul eie plaasmelk vir die vla gebruik het en haar kondensmelk self gekook het tot ’n diep toffielekkerte.

2 pakkies (80 g elk) aarbeijellie
750 g ryp aarbeie, skoongemaak en gehalveer
1 liter tuisgemaakte dun vanieljevla, nog louwarm
20 ml gelatien
30 ml koue water
10 klein karamelrolkoekies of klein konfytrolletjies, elk in 5 skyfies gesny
125 ml sjerrie
1 blik (360 g) karamelkondensmelk
250 ml koue room
30 ml versiersuiker
10 vanieljegeursel
100 ml geroosterde amandelvlokkies
Ekstra aarbeie, om af te rond

Kry ’n diep koekstruifbak gereed. Maak die jellie aan volgens die aanwysings op die pakkie en laat dit afkoel tot kamertemperatuur, maar nog nie gestol nie.

Pak ’n laag aarbeie met die gesnyde kante teenaan die glas, al om die rand van die bak, sodat dit ’n mooi raam vorm. Vul die onderkant van die bak met gehalveerde aarbeie.

Giet ’n lagie van die aarbeijellie oor die aarbeie, maar net genoeg om die aarbeilaag te bedek. (As jy te veel jellie oorgooi, sal die aarbeie begin dryf.) Hou die orige jellie eenkant in die yskas om later te gebruik.

Sit die bak in die yskas tot die jellielaag gestol is. As die vla nie meer louwarm is nie, maak dit effens warm.

Sprinkel die gelatien oor die koue water en laat staan vir 10 minute om te spons. Roer die gesponste gelatien by die louwarm vla (die vla moet warm genoeg wees om die gesponste gelatien te smelt). Meng goed en laat staan tot effens afgekoel.

Sodra dit koud genoeg is, giet driekwart van die vla oor die aarbeijellielaag. Sit die bak weer in die yskas vir die vlalaag om ferm te word.

Besprinkel die karamelrolkoekskyfies met sjerrie. Pak ’n laag rolkoekskyfies bo-op die vlalaag teenaan die glas van die bak om ’n mooi patroon te vorm. Vul die binnekant ook met sjerrie-besprinkelde karamelrolkoek. Skep die orige 250 ml vla oor die rolkoeklaag.

Klits die karamelkondensmelk met ’n draadklitser glad en skep dit oor die dun vlalaag op die rolkoek. Trek ’n vurk deur die oorblywende gestolde jellie en skep dit op die karamellaag. Bedek met kleefplastiek en verkoel tot benodig.

Net voor ete, klop die room, versiersuiker en vanieljegeursel saam styf. Stapel lepels vol room op die koekstruif en rond af met amandelvlokkies en vars aarbeie. Sit dadelik voor.

Lewer 12-14 porsies

Swartwoud-yskasmaas-kaastert

Hierdie tert gaan jou gaste in vervoering hê en is ideaal vir ’n Somerkersfees.

Tiramisu

Geen kosstorie oor koffie is afgerond sonder ’n resep vir dié verleidelike nagereg nie.

Swartwoudkoekstruif

Een van die lekkerste, luuksste en maklikste Kersnageregte. Jou gaste sal swymel.

Charlotte russe met kersies, roos en pimperneute

Hierdie is ’n resep vir somersoetgoed wat ’n bietjie meer moeite en tyd verg, maar die eindresultaat is dit werd en is perfek vir ’n feesviering.

1 x 20 cm-sponskoek, gehalveer vir twee dunner lae
1 pak (200 g) vingerbeskuitjies

Kersiestroop

60 ml suiker
80 ml water
125 ml vars kersies, ontpit

Beierse room met neute

250 ml melk
10 g gelatien
30 ml koue water
3 eiergele
100 ml suiker
15 ml mielieblom
80 ml fyngemaalde pimperneute
180 ml room
3 ml rooswater

Beierse room met kersiepuree

250 ml melk
10 g gelatien
30 ml koue water
3 eiergele
100 ml suiker
15 ml mielieblom
100 ml verpulpte vars kersies
180 ml room
Chantillyroom, vars bessies en pimperneute, om af rond

Voer die boom en kante van ’n losboomkoekpan van 24 cm met kleefplastiek uit. Bespuit liggies met kleefwerende kossproei.

Voer die boom van die pan met die een koeklaag uit. Sit die laag in die middel van die pan sodat daar ’n klein randjie rondom die koeklaag oop is.

Kersiestroop: Verhit die suiker, water en kersies saam tot kookpunt en prut vir 1 minuut. Verpulp en hou eenkant.

Pak die vingerbeskuitjies om die koeklaag teen die kante van die pan sodat dit regop staan.

Skep ’n derde van die kersiestroop oor die koeklaag en verf die binnekant van die vingerbeskuitjielaag ook liggies met kersiestroop. Hou eenkant.

Beierse room met neute: Verhit die melk oor lae hitte tot net onder kookpunt.

Terwyl die melk warm word, sprinkel die gelatien oor die koue water in ’n klein bakkie en laat eenkant staan om te spons.

Klits nou die eiergele, suiker en mielieblom saam tot glad.

Voeg van die warm melk by die eiergeelmengsel, meng goed, en giet dan alles terug in die kastrol.

Verhit, terwyl jy klits, tot die mengsel liggies begin kook. Verwyder van die hitte en klits die gesponste gelatien by. Hou aan klits tot die mengsel glad is.

Voeg nou die fyn pimperneute by en klits deur. Skep uit in ’n bakkie en laat afkoel tot kamertemperatuur.

Beierse room met kersiepuree: Herhaal die proses, maar pleks van pimperneute, voeg jy die kersiepuree by.

Wanneer elk van die mengsels kamertemperatuur bereik het, klits die room (en rooswater vir die pimperneutroom) styf en klits dit by die afgekoelde mengsels in.

Skep die pimperneutroom op die koeklaag en smeer gelyk. Sit die tweede koeklaag versigtig bo-op en skep die res van die kersiestroop oor.

Skep nou die kersieroom bo-op. Bedek en verkoel oornag.

Om voor te sit: Rond af met geklopte chantillyroom en versier met somerbessies, kersies en gekapte pimperneute. Sit voor as nagereg.

Lewer 14-16 porsies.

Bevrore koekstruif

Dié resep het al die smake van tradisionele Kersfeeskoekstruif, ideaal vir somerfeesdae.

Rooibosroomkaramel

Dié melk-en-karamelpoeding is hemels en baie makliker om te maak as wat dit lyk.

Rum-en-rosyntjieroomys

Suikersoet rosyne kan vir soveel meer as Kersgebak gebruik word.

Keer terug na die tuisblad.