Só beding Vivo-vrou tot 75%-afslag op eiendomsbelasting vir boere
Erika Helm, bestuurder van die TLU SA se Bo-Brakrivier Boerevereniging.
Boereverenigings van die Blouberg- munisipale gebied in Limpopo het daarin geslaag om vir boere 'n rabat van 75% op eiendomsbelasting te beding, maar dit het ses jaar geduur. In dié munisipale gebied het die vonk vir die stryd op Vivo in die kantoor van Erika Helm, bestuurder van die TLU SA se Bo-Brakrivier Boerevereniging, begin. Erika is ook die nasionale voorsitter van TLU SA se komitee vir plaaslike regering.
Erika Helm, bestuurder van die TLU SA se Bo-Brakrivier Boerevereniging. Sy het ook verlede jaar die Nico Killian-trofee vir Landboupersoonlikheid van die Jaar ontvang. Foto: TLU. Die TLU SA se Bo-Brakrivier-boerevereniging op Vivo is 'n voorloper om vir boere by die plaaslike owerheid in te tree oor eiendomsbelastingsake, en verseker die munisipale verordeninge word nagekom. Foto: Verskaf
Erika Helm, bestuurder van die TLU SA se Bo-Brakrivier Boerevereniging. Sy het ook verlede jaar die Nico Killian-trofee vir Landboupersoonlikheid van die Jaar ontvang. Foto: TLU. Die TLU SA se Bo-Brakrivier-boerevereniging op Vivo is 'n voorloper om vir boere by die plaaslike owerheid in te tree oor eiendomsbelastingsake, en verseker die munisipale verordeninge word nagekom. Foto: Verskaf
"Boere weet eiendomsbelasting móét betaal word en is bereid om dit te doen, maar in ons omgewing kry hulle nie regtig dienste van die munisipaliteit af nie," sê Erika Helm.
“Toe die munisipaliteit in 2006 'n waardasierol gepubliseer het, het ons gesê ons wil met hulle oor die belastingkoers onderhandel en het 'n dispuut verklaar nadat aanvanklike pogings onsuksesvol was. Danksy die dispuut, het boere geen belasting betaal totdat 'n ooreenkoms bereik is nie," sê Erika.
Al die landbou-organisasies in gebiede binne die munisipaliteit se grense het 'n sambreelliggaam gestig, met Erika as voorsitter, om met die owerheid te beding.
“Met tye was die gesprekke maar warm.
“Op ’n dag het ons gesê ons móét nou 'n ooreenkoms bereik. Die munisipaliteit het eindelik toegegee. Die skriftelike ooreenkoms wat ons in 2012 bereik het en in 'n munisipale verordening vervat is, behels dat die munisipaliteit nie dienste aan boere kan lewer nie en boere daarom 'n rabat van 75% op hul belasting kry. Boere is bereid om 25% te betaal om by te dra tot ekonomiese ontwikkeling in die gebied."
Erika sê wat haar motiveer om dié bemiddelingsrol tussen boere en die munisipaliteit te speel, is boere se dankbaarheid.
Dit kos tyd
Die sambreelliggaam het ses jaar lank met die munisipaliteit onderhandel en toe die afslag op skrif vasgepen is, was sake nog nie afgehandel nie. Dit was vir Erika belangrik dat die tarief waarteen boere aangeslaan word, bekostigbaar is.
Die sambreelliggaam het die munisipaliteit se eerste voorgestelde tarief verwerp, maar die tweede voorstel aanvaar.
Blouberg was nie dadelik gereed om rekeninge met sy amptelike stelsel vir boere te druk nie. "Ons boere was egter bereid om te begin betaal in ooreenstemming met die waardasierol en tariewe."
Die eerste rekeninge is in 2013 uitgereik. Die sambreelliggaam lewer steeds 'n diens ten opsigte van die rekeninge aan boere.
Die boeregemeenskap help onder meer om die dorpskern van Vivo skoon te hou. Foto: Verskaf
Die boeregemeenskap help onder meer om die dorpskern van Vivo skoon te hou. Foto: Verskaf
Hope papierwerk
Kartonhouers met duisende rekeninge word by ons afgelewer. Alles word gesorteer en sorgvuldig nagegaan. Indien dit korrek is, sertifiseer ons dit en stuur dit aan die boere. Indien daar fout is, meld ons dit namens boere by die munisipaliteit aan sodat dit reggestel word.
Dis 'n groot taak en die sambreelliggaam het daarom met die munisipaliteit ooreengekom dat rekeninge jaarliks uitgereik word.
Bou goeie verhoudings
Daar is administratiewe dienste wat slegs deur 'n munisipaliteit gelewer kan word. Dus is dit belangrik om 'n goeie verhouding met die munisipaliteit te handhaaf en mekaar te respekteer ten einde inwoners se lewens te vergemaklik.
Verduidelik die rompslomp
"Baie mense verstaan nie hoe dit binne 'n munisipaliteit werk nie. Ons kan dit vir grondeienaars in hul taal verduidelik ..."
Nóg afslag
Sommige munisipaliteite is bereid om nog kortings toe te staan, onder meer as daar geen munisipale pad aangrensend tot 'n eiendom is nie.
Hulle kan nóg afslag kry indien hulle bydra tot onder meer werkskepping.
Boere kry rabatte van 50% tot 75% na gelang van waaraan hulle voldoen.
Struikelblokke
Wanneer 'n munisipaliteit onder administrasie is, is dit baie moeilik om te onderhandel. "Inwoners moet probeer keer dat 'n munisipaliteit onder administrasie geplaas word, want dit het 'n ongelooflik nadelige uitwerking op byvoorbeeld die verhandeling van eiendom."
Kontak
E-pos: bobrakbv@mweb.co.za