Beplanning, verhoudings en papierwerk sleutel tot sopkombuis se sukses
Annemarie Verwey, bekroonde gemeenskapsleier van Murraysburg
Annemarie Verwey is al vir 22 jaar betrokke by opheffingswerk op Murraysburg. Sy dien in dié Wes-Kaapse dorpie se verenigings en plaaslike rade, en bedryf ook 'n voedingskema vanuit haar huis. Die skema word net gefinansier deur kerke, plaaslikes en mense van buite die dorp. Met haar invloed wat ver buite die Karoo strek, lok sy skenkings, ondersteuning en geleenthede vir die Murraysburg-gemeenskap.
Annemarie Verwey, beter bekend as Suster Ann of Mammie, is een van die Murraysburg-gemeenskap se steunpilare.
Annemarie Verwey, beter bekend as Suster Ann of Mammie, is een van die Murraysburg-gemeenskap se steunpilare.
Annemarie, oftewel "Suster Ann", voer daagliks 'n stryd teen armoede en maatskaplike kwessies wat Murraysburg teister. Op die plattelandse dorpie is talle huishoudings en gesinne wat deel uitmaak van die sowat 12% van Suid-Afrikaanse huishoudings sonder voedselsekerheid.
"Voor jy beoog om die loopgrawe te betree, moet jy eers 'n stewige fondasie vir jou "vesting" bou. Dan eers kan jy en jou troepe oorlog teen armoede en hongersnood verklaar," sê sy.
Dit behels deeglike beplanning, verhoudings met die gemeenskap en 'n doeltreffende administratiewe stelsel vir finansiële deursigtigheid ontwikkel.
1. Trek 'n operasionele plan op
Definieer jou voedingskema se spesifieke doelwitte: die aantal mense wat daagliks gevoed moet word, watter soort kos julle wil verskaf, asook enige ander opheffingswerk wat met behulp van die skema kan gebeur.
Wees prakties en hou ook logistieke beplanning in gedagte met jou projek – kos moet vervoer, opgeberg en vars gehou word.
Ontwikkel 'n tydlyn met die doelwitte wat jy binne 'n spesifieke tydperk wil bereik en deel dit in fases op. Dit sluit in die beplanningsfase, toepassing, asook tye wanneer jy bestekopname van die projek se resultate doen. Só bly jy op koers.
2. Bou verhoudings
Goeie verhoudings met die gemeenskap is noodsaaklik. Betrek organisasies, sakekamers, gemeenskapsleiers, en boere; nie net vir skenkings nie, maar ook om hul kundigheid te benut.
Hou belanghebbendes soos gemeenskapslede, plaaslike besighede en skenkers op die hoogte. Annemarie gebruik byvoorbeeld WhatsApp om die voedingskema-skenkers te wys hoe hul bydraes 'n verskil in iemand se lewe maak.
Dis noodsaaklik om voedingskema-skenkers op die hoogte te hou van die voedingskema se doen en late, aldus Annemarie.
Dis noodsaaklik om voedingskema-skenkers op die hoogte te hou van die voedingskema se doen en late, aldus Annemarie.
3. Moenie jou admin afskeep nie
Hou jou finansiële en administratiewe papierwerk op datum. Begroot vir personeel met goeie administratiewe vaardighede, of as jou begroting nie dit toelaat nie, nader die plaaslike sakekamer of 'n besigheid wat toegang het tot administratiewe hulpmiddels. Dalk is hulle bereid om jou pro bono uit te help.
Gee alle belanghebbendes toegang tot jou uitgawes en hou skenkers op die hoogte vannn hoe hul bydraes bestee word. Só bevorder jy deursigtigheid. Dit kan mense ook insig gee oor die koste wat met só 'n projek gepaard gaan.
Kring die impak uit
'n Voedingsprogram se bydrae tot sy gemeenskap strek verder as om honger mae te vul. Dis 'n kragtige wyse om gunstige verandering, werkskepping en sterk gemeenskapsbande aan te moedig.
Miljoene Suid-Afrikaners leef onder die broodlyn en luidens die mees onlangse verslag van Statistieke Suid-Afrika weet die broodwinners van 2,1 miljoen huishoudings nie of hulle aldag hul gesinne van 'n maaltyd kan voorsien nie.
Miljoene Suid-Afrikaners leef onder die broodlyn en luidens die mees onlangse verslag van Statistieke Suid-Afrika weet die broodwinners van 2,1 miljoen huishoudings nie of hulle aldag hul gesinne van 'n maaltyd kan voorsien nie.
Stryd teen middelmisbruik: Jy kan verslawing aanpak deur plaaslike ondersteuningsgroepe soos die AA en NA te betrek.
Bevorder geletterdheid: Moedig skoolbywoning aan deur jou skema aan opvoedkundige en skoolprogramme te koppel.
Voorkom geslags- en kindergeweld: Betrek maatskaplike werkers wat die gevaartekens sien by vroue en kinders wat risikogevalle vir geslagsgeweld is. Probeer kwesbare groepe by gemeenskapsuitreikings en werksessies betrek om bewustheid hieroor te skep en veiliger gemeenskappe te skep.
Kontak
E-pos: verweyannemarie@gmail.com of
tiaan.galant@westerncape.gov.za